AFRIKA TOERE

Damaraland, Kaokoveld & Etosha

Toer Inligting

Tydsduur

13 dae /12 nagte

Formaat

’n Begeleide, 4 x 4 selfrytoer
Gerieflike tente

Volgende toere

28 Mei -9 Junie 2022

Koste

R23 850 per persoon

Maks. hoeveelheid persone

16 gaste

Praktiese Inligting:

Ingesluit:

  • Drie maaltye per dag (vanaf aandete dag 1 tot ontbyt dag 13)
  • Gids, sjef en fotografiese instrukteur
  • Alle parkfooie
  • 12 nagte se akkommodasie
  • Professionele karradios
  • Tente en breekgoed

Nie ingesluit nie:

  • Voertuigonkostes soos brandstof, grenstariewe, ens.
  • Persoonlike drankies en versnaperinge
  • Beddegoed
  • Visums (Suid-Afrikaanse burgers het nie visums nodig nie)
  • Covid-toets (jy moet vooraf ‘n toets laat doen en jou negatiewe uitslag by die grens kan wys; die toets mag nie ouer as 7 dae wees nie)

Op hierdie toer ervaar jy:

Spitzkoppe – Uis – Brandberg – Damaraland – Ugabrivier – Goantagabrivier – Twyfelfontein – Aba-Huabrivier – Palmwag-konsessie – Mudoribrivier – Hoanibrivier – Sesfontein – Warmquelle – Ongongo – Opuwo – Kaokoland – Epupawaterval – Kunenerivier – Ruacana – Etosha

Neem asseblief kennis

Praktiese inligting:

  • Slegs die groot grensposte (Vioolsdrif/Noordoewer en Nakop/Ariamsvlei) is tans oop tussen Suid-Afrika en Namibië. Moenie een van die kleineres probeer gebruik nie.
  • Maak seker jy bring jou negatiewe Covid-toets (nie ouer as 7 dae nie) saam na die grens. Daarsonder kan jy nie Suid-Afrika verlaat nie. Vergewis jouself van die nuutste Covid-maatreëls voor jou vertrek – dit kan op kort kennisgewing verander.
  • Daar is wel Covid-toetsfasiliteite by die grens maar neem in ag dat dit jou deurgang deur die grens kan vertraag indien daar 
    baie mense is wat getoets moet word. Die blitstoets by die grens kos in die omgewing van R350. Indien jy nie weer iewers in Namibië ’n Covid-toets laat doen nie, kan jy met jou terugreis na Suid-Afrika van hierdie fasiliteit gebruik maak, want jy sal weer ’n negatiewe toetsuitslag moet hê voor jy Suid-Afrika mag binnekom.

  • Dra jou masker ten alle tye by die grenspos, en reken ekstra tyd by vir die grenskruising, omdat daar tans effe meer papierwerk te doen is. Dit is egter steeds doodeenvoudig om die grens oor te steek!
  • Die beste voertuig vir hierdie toer is ’n gerieflike bakkie of sportnutsvoertuig (SUV) met goeie grondvryhoogte en 4×4 (noodsaaklik).

'n Fotograaf se droom

Hierdie 13-dag toer is ’n avontuur van begin tot einde. Ons kombineer klassieke Namibiese bestemmings soos Etosha- nasionale park, Twyfelfontein se rotsgravures en Epupawaterval met minder bekende uithoeke van Damaraland en Kaokoland. Die landskappe wissel van uitgestrekte vlaktes met vreemde plantegroei, ruwe bergwoestyn en droë rivierlope (waar woestynolifante hou) na voëlryke oewerbos waar palmbome staan langs die Kunenerivier in die noorde van Namibië.

Die toer is saamgestel met die oog op amateurfotograwe wat hulle fotografie wil verbeter, asook diegene wat Namibië se wildernis wil geniet in die geselskap van ’n ervare toergids. Die bekende reisjoernalis Toast Coetzer vergesel die toer en hy sal jou help om jou kamera te bemeester sodat jy die beste uit jou toerusting kan kry. Die reisplan is ook só uitgewerk sodat daar elke dag spesifieke fotogeleenthede is waar jy verseker kan wees van puik foto’s.

Professionele gids Douwe Vlok (Heuningland-toere) lei dié toer. Hy word bygestaan deur ’n klein maar gedugte span wat sal sorg dat daar altyd ’n heerlike maaltyd vir jou wag by die kampterrein – waar jou tent ook reeds opgeslaan staan.

harry-cunningham-SiWwHAvcm4g-unsplash

Toerplan

Dag 1

Ons ontmoet die middag by Spitzkoppe naby Usakos. Spitzkoppe is ’n inselberg – ’n rotsmassa wat dramaties uitstaan bo die omliggende woestynvloer. Reeds op ’n afstand maak dit vir mooi foto’s maar sodra jy aan die voet van die granietrotse kom, en die laatmiddaglig begin hulle in rooi te tooi, dan sal jou kamera behoorlik warm raak soos jy gaan foto’s neem! Selfs al neem jy nie foto’s nie: sit in stilte en geniet die grootsheid van hierdie spesiale plek.

Teen sonsondergang neem ons foto’s by die Boogrots, en daarna ontspan ons om die kampvuur waar die toerleier die reisplan sal bespreek.

Toast is elke dag tot jou beskikking. Dit maak nie saak of jy net met jou selfoon foto’s neem en of jy ’n D-SLR-kamera het met ’n sak vol lense nie. Jy kan jou vrae vra, en Toast sal help. As jy nie ’n fotograaf is nie, maak dit ook glad nie saak nie. Drink die tonele in met die oog, of trek jou verkyker nader om die detail te sien.

Dag 2

Na ’n vroeë ontbyt en oggendfoto’s reis ons noord na die dorpie Uis, waar ons brandstof kan ingooi en ys koop (ja, ys in Uis!). Ons ry naby Brandberg (Namibië se hoogste berg) verby en vat tweespoorpaaie van die Ugab- na die Goantagabrivier. Hierdie is Damaraland op sy mooiste, en ons ry deur ’n area waar die gedruis van toeriste nooit kom nie.

Ons bereik die gewilde area rondom Twyfelfontein, waar ons gaan kyk na die Verbrande Berg en die Orrelpype – ’n interessante klipformasie. Ons oornag langs die Aba-Huabrivier – een van die droë rivierlope waar woestynolifante soms gesien word.

Dag 3

Na ontbyt besoek ons die rotsgravures by Twyfelfontein, ’n Wêrelderfenisgebied. Dit is geen gewone rotskunsterrein nie: hier is honderde dier- en mensfigure uitgekerf op klippanele, waarvan sommige etlike meter lank is. Jy sien als van die “Dansende Koedoe” tot selfs ’n pikkewyn!

Hiervandaan ry ons noord na Palmwag, en die landskap verander soos ons ry. Kyk uit vir wild soos sebras en kameelperde padlangs. Dit raak meer bergagtig en skynbaar nóg meer onherbergsaam, maar by Palmwag vind ons goeie herberg vir die aand: hier is ’n swembad en warm storte. Geniet dit vir oulaas, want vir die volgende paar dae is sulke luukses ons nie beskore nie!

By Palmwag is ook brandstof, en ons maak tenks vol en vul drink- en waswater aan vir die wildernis wat voorlê.

Dag 4

Vir die volgende drie dae verken ons ’n konsessiegebied noordwes van Palmwag. Min mense kom hier, want jy het ’n 4×4 nodig en moet ten volle selfversorgend wees. Dit is ook ’n houplek van die skaars swartrenoster – met geluk sien ons een.

Die eerste aand in die konsessiegebied kamp ons op die vlakte naby Xai-As, ’n drinkplek vir die wilde diere wat hier oorleef. Jy moet sorg vir jou eie drink- en waswater, maar ons logistieke span sal ’n bostoilet opslaan en ’n skerm oprig waar jy ’n emmerstort kan geniet.

Dag 5 & 6

Die 4×4-roete wat ons volg lei ons in die droë loop van die Mudoribrivier af. Die droë rivierlope van die noordweste van Namibië is unieke ekosisteme. Groot kameeldoring- en anabome lok wild soos olifante en kameelperde – hier is selfs nog leeus, en dalk loop ons ’n bruinhiëna raak. Kyk uit vir skaars roofvoëls soos die witborsjakkalsvoël, en moenie van die klein diertjies vergeet nie: hier hou ook Namakwa-verkleurmannetjies.

Wanneer daar reën geval het in die somer is daar plek-plek lappies weiding waar springbokke, gemsbokke en steenbokkies gesien kan word. Die vreemde welwitschia-plante, wat ouer as 1000 jaar kan word, groei ook in die area.

Ons kamp twee aande langs die Mudoribrivier sodat ons tyd het om diere te soek en die wildernis ordentlik te kan beleef. Ons ry na die Hoanibrivier en ook ’n watergat genaamd Presidentswater waar ons beste kans is om wild te sien.

Dag 7

Ons ry in die droë Hoanibrivier op tot by Sesfontein, ’n dorpie waar ons kan brandstof ingooi en inkopies doen (nog ys, ja!). Dan ry ons na nabygeleë Warmquelle waar ons net noord van dié plekkie kamp by Ongongo, uitgelê langs ’n pragtige fonteinpoel. Swem was lanklaas so lekker!

Dag 8 & 9

Ons val vroeg in die pad en ry oor die ruwe Joubertpas na bedrywige Opuwo, die grootste dorp in die streek. Padlangs neem ons landelike tonele af – ons ry nou die wêreld van die OvaHimba binne, en Kaokoland lê in elke rigting om ons.

Nadat ons voorrade aanvul in Opuwo ry ons verder noord tot by die Kunenerivier, waar die wonderlike Epupawaterval vir ons wag. Ons slaap twee aande hier, want dis een van die mooiste plekke in die ganse Namibië!

Laatmiddag neem ons stelling in op die koppie wat uitkyk oor die valle, wat bestaan uit ’n hoofval en etlike kleiner watervalle wat oor die hele wydte van die Kunenerivier strek, van die Namibië-oewer tot aan die Angola-oewer.

Die kampplek is idillies, met die geruis van die waterval in die agtergrond, en die palms wat saans bo jou wieg.

Vroegdag die volgende oggend besoek ons ’n Himba-nedersetting waar ons meer leer van hul kultuur en leefwyse as beesboere in hierdie klipharde, droë area. Middagete is terug by die kamp. Daarna kan jy ontspan tot laatmiddag, wanneer Toast ’n fotoneemekspedisie lei teen die rivier af.

Dag 10

Vandag draai ons ooswaarts en volg die loop van die Kunenerivier verby Swartbooisdrift in die rigting van Ruacana. Die voëllewe langs die rivier is goed, en oral staan mooi oewerbome. Ons kamp en geniet nog ’n nag langs die Kunene.

Dag 11

Ons vul brandstof aan in Ruacana en vat dan teerpad suidwaarts tot by die Galtonhek aan die westelike grens van Etosha- nasionale park. Hierdie deel van die park sien min besoekers, en ons kan rustig wild kyk tot by Olifantsrus, waar ons kampeer vir die aand. Dit is ’n klein, stil kampplek met ’n watergat wat saans verlig word sodat jy kan sien wat na sonsondergang kom drink.

Dag 12

Hierdie deel van die toer bied die beste wildlewefotogeleenthede, want diere en voëls is volop in Etosha, terwyl die kenmerkende wit vlaktes van die panne ’n onmiskenbare agtergrond bied vir die soms massas diere wat saamdrom om watergate. Ons ry vandag na Okaukuejo-ruskamp waar ons vir die aand gaan oorstaan.

Middagete kan ons reeds by Okaukuejo-ruskamp se watergat geniet. Dié watergat bied fantastiese fotogeleenthede soos die diere – sebras, springbokke, gemsbokke, renosters – kom drink.

Die middag ry ons rond van watergat na watergat en soek leeus, jagluiperds, luiperds, olifante en vlaktewild. Tussen die kampvuurkuier deur later die aand sal daar tyd wees om jou foto’s vir Toast te wys vir kommentaar en terugvoer.

Dag 13

Na twee weke se pure plesier groet ons mekaar vandag – tot volgende keer!

Stel jy belang in die toer?

Laat ons help om te beplan!

Etosha, Namibia
Two Southern Yellow-billed Hornbil