AFRIKA TOERE
Geheime van die Namib
Toer Inligting
Tydsduur
9 dae / 8 nagte
Formaat
‘n Begeleide, selfrytoer (4×4) met gerieflike tente
2 x 4 bakkie met “diff-lock” en hoë grondvrye hoogte kan ook gebruik word
Volgende toere
18-26 Mei 2022
Koste
R18 450 per person
Maks. hoeveelheid persone
16 gaste
Praktiese Inligting:
Ingesluit:
- Drie maaltye per dag (vanaf aandete dag 1 tot ontbyt dag 9)
- Gids, sjef en fotografiese instrukteur
- Alle parkfooie
- Agt nagte se akkommodasie
- Professionele karradios
- Tente en breekgoed
Nie ingesluit nie:
- Voertuigonkostes soos brandstof, grenstariewe ens.
- Persoonlike drankies en versnaperinge
- Beddegoed
- Visums (Suid-Afrikaanse burgers het nie visums nodig nie)
- Covid-toets (jy moet vooraf ‘n toets laat doen en jou negatiewe uitslag by die grens kan wys; die toets mag nie ouer as 7 dae wees nie)
Op hierdie toer ervaar jy:
Aus se wilde perde – Landskappe langs die D707-roete – Betta – Sesriemcanyon – Sossusvlei – Dooievlei – Naukluftberg se kokerbome – Tsauchab se wildevyewoud – Woestyndiertjies saam met Boesman Davids – Solitaire – Die afgesonderdheid van Mirabib
Neem asseblief kennis
Praktiese inligting:
- Slegs die groot grensposte (Vioolsdrif/Noordoewer en Nakop/Ariamsvlei) is tans oop tussen Suid-Afrika en Namibie. Moenie een van die kleineres probeer gebruik nie.
- Maak seker jy bring jou negatiewe Covid-toets (nie ouer as 7 dae nie) saam na die grens. Daarsonder kan jy nie Suid-Afrika verlaat nie. Vergewis jouself van die nuutste Covid- maatreels voor jou vertrek.
- Daar is wel Covid-toetsfasiliteite by die grens maar neem in ag dat dit jou deurgang deur die grens kan vertraag indien daar
- baie mense is wat getoets moet word. Die blitstoets by die grens kos in die omgewing van R350. .Indien jy nie weer iewers in Namibie ‘n Covid-toets laat doen nie, kan jy met jou terugreis na Suid-Afrika van hierdie fasiliteit gebruik maak, want jy sal weer ‘n negatiewe toetsuitslag moet he voor jy Suid-Afrika mag binnekom.
- Dra jou masker ten alle tye by die grenspos, en reken ekstra tyd by vir die grenskruising, omdat daar tans effe meer papierwerk te doen is. Dit is egter steeds doodeenvoudig om die grens oor te steek!
- Die beste voertuig vir hierdie toer is ‘n gerieflike bakkie of sportnutsvoertuig (SUV) met goeie grondvryhoogte en 4×4 (noodsaaklik).
Ons Reis:
Die Geheime van die Namib-toer is saamgestel met die oog op amateurfotograwe wat hulle fotografie wil verbeter, asook diegene wat die woestyn wil geniet sonder om te diep die boendoes hoef in te vaar.
Die bekende reisjoernalis Toast Coetzer vergesel die toer en hy sal jou help om jou kamera te bemeester sodat jy die beste uit jou toerusting kan kry. Die reisplan is ook so uitgewerk sodat daar elke dag spesifieke fotogeleenthede is waar jy verseker kan wees van puik foto’s. Professionele gids Douwe Vlok (Heuningland-toere) lei die toer. Hy word bygestaan deur ‘n klein maar gedugte span wat sal sorg dat daar altyd ‘n heerlike maaltyd vir jou wag by die kampterrein waar jou tent ook reeds opgeslaan staan.
Die landskap wat ons besoek is sonder weerga. Die Namib is meer as net die manjifieke rooi sandduine tussen Sesriem en Sossusvlei. Aan sy suidelike rand hou woestynperde in die ooptes naby die dorpie Aus, langs die D707-pad sien jy hoe die ruwe Tirasberg die woestyn ontmoet, en noord van die Kuisebrivier, rondom n wilderniskampplek genaamd Mirabib, le die kwartsietvlaktes tot op die horison.
Die Namib is ‘n fotograaf se droom: die laatmiddag- en vroegdaglig is pure toorgoed, want elke duin, kokerboom, bergrand en boomsilhoeet word dadelik ‘n foto om te onthou. Die toer is beplan rondom fotogeleenthede.
Toerplan
Dag 1 & 2
Ons kom bymekaar by Klein-Aus Vista, geleë net wes van die dorpie Aus. Die kampplek by Klein- Aus Vista is dramaties geleë en omring deur granietkoppe. Wanneer jy by die kamp arriveer sal daar reeds moerkoffie regstaan op die vuur. Jy kan begin vakansie hou!
Ons geniet sonsondergang by Garub waar die wilde perde water kom drink. Voor aandete om die vuur gesels ons oor die avonture wat vir ons voorlê in komende dae.
Na ‘n vroeë koffie en beskuit die volgende oggend gaan ons weer terug wilde perde toe, vir sonsopkoms oor die woestynvlakte. Terug by Klein-Aus Vista geniet ons ‘n heerlike laatontbyt en later bied Toast ‘n fotografiepraatjie aan. Vra daai vraag wat jy nog altyd wou vra: Dit maak nie saak of jy net met ‘n selfoon foto’s neem en of jy lankal behendig is met ‘n D-SLR- kamera nie – Toast is hier om te help. Nie-fotograwe is natuurlik ook welkom op hierdie toer: jy kan net terugsit en alles geniet.
Dag 3
Vandag ry ons noordwaarts van Aus na die Betta-omgewing, al met die soom van die woestyn langs, daar waar die vlaktes die berge ontmoet. Ons het genoeg tyd om dit rustig te vat en dit gaan nodig wees, want daar is pragtige fotogeleenthede langs die D707 (bekend as een van die paaie met die mooiste landskappe in Namibië), met die woestyn wes van ons en die Tirasberge aan ons oostekant.
Betta is ‘n klassieke plekkie: eintlik net ‘n plaaswerf, maar hier is ‘n petrolpomp en ‘n koffiewinkel met lekker wortelkoek! Ons oornag in die omgewing, op die oop vlaktes waar ou kameeldoringbome waghou.
Dag 4 & 5
Van Betta ry ons verder noord na Sesriem, met die boeiende landskap wat voortduur soos ons deur die Namibrand-privaatreservaat ry. Hierdie area het reën gekry tydens die somer en ‘n fyn grastapyt bedek die woestynvlaktes ons kan gemsbokke en Hartmann se bergsebras padlangs sien, en sal stop om hulle af te neem.
Ons kamp vir twee aande by Sesriem waar daar brandstof en ‘n winkel is. Ons besoek die Sesriem-canyon met sy interessante geologie. Jy kan self besluit waar jy sonsondergang wil geniet – : in die kampterrein of op die nabygeleë Elimduin.
Douvoordag die volgende oggend gaan ons die Namib-Naukluft Nasionale Park binne en ry reguit na Duin 45 om lekker hoog te kan sit sodra die son sy kop uitsteek oor die hoekie van Afrika. Terug by die voertuie geniet ons ‘n koppie warm koffie en ‘n ligte ontbyt voor ons die laaste kilometers aflê na die wêreldberoemde Sossusvlei en die fotogeniese Dooievlei.
Padlangs lê die getuienis van die afgelope somer se vloedwater: Sossusvlei was vanjaar vol water!
Ons eet middagete in die skadu van ‘n kameeldoringboom, omring met die Namib se enorme rooi duine. Die fotograwe wat wil wag vir laatmiddaglig by Dooievlei se boomsilhoeëtte kan saam met Toast agterbly, andersins kan jy op jou eie tyd terug ry Sesriem toe.
Dag 6
By die ontvangsarea van Tsauchab River Camp staan eienaar Johan Steyn se beelde gemaak uit skrootmateriaal iets om die fotograwe se kreatiwiteit te prikkel.
Laatmiddag ry ons na ‘n geheime kokerboomwoud waarvan baie min mense weet. Dit staan teen die hange van die Naukluftberg en hier gaan ons foto’s neem dat die geheuekaarte hop!
Dag 7
Van hier af is dit ‘n kort sprong tot by Boesman Davids en sy vrou, Yuri, van Sossus-on- Foot. Boesman is ‘n woestynkenner met dekades se ervaring en hy neem ons op ‘n verkenningstog in die duine waar ons bekendgestel word aan die kleiner diertjies van hierdie ekosisteem.
Naby die kampplek staan kokerbome, waar ons saans met ekstra beligting kan rondspeel vir ‘n unieke foto.
Gemsbokke, bergsebras en springbokke kom drink soms by die drinkbak voor die ontvangsarea.
Dag 8
Ons mikpunt is Mirabib, ‘n inselberg wat reeds van ver te sien is waar dit prominent op die kwartsietvlaktes uitstaan. Op pad soontoe kan ons wild sien (met geluk, selfs jagluiperds) in die verte en dis tyd om jou lang lens uit te haal en daai volstruis op die horison nader te trek.
Mirabib is ‘n wilderniskamp (geen storte, slegs puttoilet) waar jy die Namib ervaar soos op geen ander plek nie. Meeste toeriste jaag hier verby op pad kus toe, maar ons maak nie dieselfde fout nie. Dit voel regtig asof jy hier op ‘n ander planeet slaap. Saans herinner die byna verblindende sterre jou dat jy inderdaad nog op planeet Aarde is. In die middel van nêrens is ‘n lekker plek om te wees, en Mirabib is presies dit.
Dag 9
Na ontbyt is dit ongelukkig tyd om afskeid te neem. Dit is egter net tot volgende keer!