Karoo Perdry-Ekspedisie

Datum: 7-14 Mei 2016
Kostes:
  • R5950 - formeel per persoon (Beddegoed word voorsien, nie noodwendig privaat kamer nie, sal met geleentheid moet deel)
  • R5400 – “kampering” per persoon (slaapsaal/skure, matras word voorsien , maar nie beddegoed)
Ingesluit by die prys:
  1. Drie maaltye per dag (dit sluit aandete vir 1ste aand en ontbyt vir die laaste oggend in.)
  2. Koffie en tee word met ontbyt en aandete voorsien.
  3. Vervoer van kamptoerusting, klere, peuselkos, drankies en water emmers.
  4. Twee lusern bale per perd (neem asb kennis dat jy moet voer bring vir die eerste twee dae en ook die laaste dag – ons voorsien vir dag 3,4, 5 en 6)
Getal ruiters
  • Maksimum van 20 ruiters
  • Ruiters moet hul eie perde bring

Die Roete

Ons gaan ‘n paar keer die pad kruis waar Sylvester, die alombekende leeu, rondgeloop het. Op die laaste dag ry ons verby die plek waar hy uit die Park gekom het. Ons gaan ‘n sirkelroete van ongeveer 225km ry oor 6 dae. Water punte is ongeveer 11km uit mekaar. Sonopkoms is ongeveer 7:10, die beplanning is dus om soggens 8:00 te vertrek en in die namiddag rondom 16:00 by die aand se bestemming aan te kom.

Dag 1:
Ons begin by Boplaas, die gasteplaas, waar ons die eerste 2 nagte en ook die laaste aand gaan oorbly. Hier laai ons af, die perde bokse en voertuie bly ook hier.
Die wat wil, kan ‘n draai gaan ry tot op ‘n kop met ‘n pragtige uitsig. Aandete geniet ons om die vuur waar die toerleier sal uitbrei oor die lekker avontuur wat voorlê.

Dag 2: 38km
Ons ry vandag ‘n sirkel roete en beplan om tussen 14h00 en 15h00 terug te wees by ons akkommodasie. Die roete het nie erg bulte nie, maar ons sak wel af in ‘n droeë rivierloop wat ons sal volg vir ±6½km. Dit word sommer gou ‘n pragtige klofie wat ons dan later weer moet uitry. Die laaste 10km is weer gelyk en redelik sag met die moontlikheid om wild soos gemsbokke, gewone en swart springbokke, koedoes en ander klein wild te sien.

Dag 3: 41km
Vandag ry ons Tafelkop uit, wat nogal ‘n bulletjie is. Die beloning aan die bopunt is egter groot as die Karoo vlaktes voor jou oopval. Met tye gaan ons onder plate doringbome deurry wat ‘n afdak vorm en dan is die pragtige Oukloofpas ons laaste uitdaging vir die dag.

Dag 4: 44km
Vandag is ‘n langer dag, maar die pad is sagter en relatief plat. Ons is nou in die Noord-Kaap in die Fraserburg distrik. Vanoggend moet ons die laaste bult van Oukloofpas uit om op die plato van die Nuweveldberge te kom. Dit is ook hier waar Sylvester vir ‘n ver ent “langs ons stap”. Laat middag sak ons af tot in ‘n nou klofie na die Leeukloof Opstal waar ons gaan oornag.

Dag 5: 30km
Die eerste stuk gaan bietjie opdraand wees, net om uit die kloof te kom, daarna is die pad weer plat en sag. Die volgende 2 nagte bly ons oor by Amandelboom Gasteplaas, die huis het ‘n lieflike kuierkamer en groot vuurherd.

Dag 6: 26km
Vandag is ons nie lank in die saal nie, daar gaan meer tyd wees om die unieke en verskillende plantegroei van nader te bestudeer. Ons gaan ook kyk na ou fossiele en gaan pragtige uitsigte vanaf die platorand van die Nuweveldberge hê.

Dag 7: 46 km
Ons laaste dag in die saal, vandag ry ons al die pad terug Boplaas toe. Die roete is meestal afdraandes en gelyktes en ons ry ongeveer 14 km langs die Westelike grens van die Karoo Nasionale Park. Hopelik gaan ons wild te siene kry. Oppad besoek ons ‘n 150 jarige ou korbeelhuisie. Die huisie het nog sy oorspronklike dak van klip. Ons maak ook seker die gat waar Sylvester uitgekruip het is nog heel.
By Boplaas wag daar ‘n welverdiende warm stort of iets kouds in die swembad. Ons laaste aand saam geniet ons om die vuur met ‘n lekker heilsame bord kos.

Dag 8:
Na ontbyt gaan ons moeilik groet tot ‘n volgende keer.