Om in eenvoud die Groot Karoo, met al sy geheimenisse en stories, bekend te stel aan almal wat ‘n behoefte het om die klok te stop. As mens hier in die land van ruimte lank genoeg stil genoeg raak, kan jy weer die hartklop van die aarde hoor. Dit is ‘n plek waar tyd nie bestaan nie.
Ons is trots Suid-Afrikaans en het ‘n passie vir die Groot Karoo, sy mense, unieke plantegroei en diere. In wese is ons bewaarders van die natuur en wil graag die kennis, wat deur jare se ondervinding opgedoen is, deel dmv begeleide staptoere, perdry-ekspedisies, werkswinkels en Karootoere. Dit is vir ons belangrik dat Heuningland ‘n plek sal wees waar mense net kan kom wees.
Heuningland is ‘n salige stukkie aarde tussen Beaufort-Wes en Fraserburg op die Oukloof pad. Ons grens aan die Suid-Westlike kant van die Karoo Nasionale Park. Vir jare droom ons om ‘n selfonderhoudende leefstyl hier te vestig. Na baie ander avonture het die tyd aangebreek om van die gewone padkaarte af te klim en oor te klim op die hartkaart van die Karoo. Die naam Heuningland is gekies vir dit wat “heuning” vir ons simboliseer:
- 100% natuurlik
- Oorspronklik
- Genesing
- Belofte
- Eenvoud
- Produktiwiteit
Heuningland word bewaak en gekoester deur die berge, en word gevoed deur baie herinneringe, twee sterk boorgate en ‘n groot droom. Die staptoere en perdry ekspedisies sal die eerste tree wees na ons visie om onsself permanent hier te kom vestig.
Die mens kan nie weer teruggaan na die tyd toe miljoene springbokke oor die Karoo vlaktes getrek het nie, maar die aarde hier onthou nog.
Die herinneringe van die aarde word hier, in die ysterklippe van die Groot Karoo gebêre. Kom sit op een, en onthou saam met ons.