Karoostilte

Heuningland
04.08.23 03:14 PM Comment(s)
Deur Chris Els (Stapper 2021)
Life is a journey not a destination.
– Unknown

A journey of a thousand miles must begin with a single step.
– Mao Tse-tung
Karoostilte is vriendelik deurdringend. 

Dit is versadigend, verwelkomend, vervullend en lê anderkant die wêreld gedryf deur klank, gedruis, geraas, besigwees.

Om die Karoostilte so ten volle en met oorgawe te ervaar is werklikwaar ‘n uitsonderlike voorreg, maar ook ‘n kuns en verg in menige opsigte heelwat toegewyde aandag. As die voetslaners die pad vat en op ‘n gewaande solo selfsoektog vertrek, kom hul gou agter hulle is nie alleen nie. Dié Stilte maak oop en laat die mens in, neem van die voetslaner besit en vergesel elkeen op sy staptog. Dit maak die pad korter en verlig die moeisame se gemoed met elke tree.

Die wonder en enigma van hierdie Stilte kan slegs ervaar word sodra die voetslaner op sy tog stil gaan staan en sélf stil raak.
Skadu’s skuur oor veld, rots en krans in Stilte, wolke wieg op die wieke van die westewind op bergkruin en wentel na benede in Stilte

Doringboom, karee en ghwarriebos begroet die verbyganger met eerbied in Stilte
Selfs die droë, dor landskap van heuwels, berge en klowe koester die Stilte
En rol die tapyt daarvan uit voor elke togganger sonder skroom of aansien, want uit die skatkis van oorvloedige Karoostilte word elke tam voet, been, rug of gebarste lip gebaai in Stilte
Met die awendskemer, wanneer Venus en Saturnus die naghemel verhelder,
En later met die Skerpioen bokant en Suiderkruis as rigtingwyser wink die ganse stervervulde hemel
In Stilte
Met die eerste daeraad, as die halfmaan skalks in die lug hang, maak die son reg om sy eerste strale te werp
In Stilte

Dié lafenis vervul die gees, verlig die gemoed en reining die denke van alle neerdrukkendheid; dit verhelder die geestesoog dermate dat selfs die star en ruwe natuur ‘n treffende bekoring van toenemende skoonheid kry.
Dit vertroos en heel; dit verwyder alle kwelgedagtes; vernuwe en maak skoon wat flussies nog besoedel en beswaard was.
Ten aanskoue hiervan en met altoos veranderende gesigseinder word die waarnemer telkens verras deur die intensiteit van die Stilte.
Helaas, en na vele moeisame ure op die pad van Stilte, is die reis voltooi en die einde breek aan.

Die voetslaner besef dan die kosbaarste skat wat hier te vinde is – die Stilte – bly net hier; dit kan nie soos bagasie ingepak en saamgeneem word op die terugreis na die wêreld nie; slegs die hoeveelheid wat vergaar is in die hart van die stapper kan saamgeneem vir gebruik op die lewensreis hiervandaan voort.

Wees stil en weet …
A journey of a thousand miles ends with a single step, but the Silence remains in the heart.